BOEKE – Slangsaad Volume 1 is vrygestel deur JM Buchling en is nou beskikbaar. Hierna volg enkele uittreksels uit die boek.
Inleiding deur die skrywer, JM Buchling
2Tim 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
Geagte leser
Hierdie boek is glad nie daarop ingestel om iemand se gehoor te streel en/of lesers of van enige lering te oortuig nie. Feite word weergegee soos wat dit is, met die oog daarop om dinge te openbaar wat vir gelowiges verborge gehou word deur die Duiwel en sy wêreldse sisteem.
Voortvloeiend uit kennis is noodwendig verantwoordelikheid!! Lees u hierdie stuk en stel u steeds u kinders en ander bloot aan dit waarmee ons in hierdie leerstuk handel sal u daarvoor verantwoording doen. U sal nie voor die Skepper en Vader kan gaan staan en u op onkunde beroep nie.
SLANGSAAD VOLUME 1
Genesis 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
Openbaring 18:24 En die bloed van profete en heiliges is in haar (Babilon) gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.
Profetiese Woord – Laaste Dae
Hierdie stuk handel ook onder andere met die profetiese woord wat sê dat dit in die laaste dae weer sal wees soos in die dae van Noag en Lot – dat die mense lustig sal voortgaan met hul sondes en hul aan geen vermaning van God sal steur nie. Ons weet nie hoe lank hierdie tydperk van die laaste dae gaan wees nie, maar moet let op die tekens van die tye soos die Bybel dit vir ons gee.
- Matt 24:37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
- Matt 24:38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
- Matt 24:39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
- Luk 17:26 En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens:
- Luk 17:27 hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.
- Luk 17:28 Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
- Luk 17:29 Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
- Luk 17:30 Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.
In hierdie skrywe sal u sien presies hoe dit in daardie dae gegaan het en ook baie van daardie dae se dinge in die tyd waarin ons leef erken.
Die geestelike aanslae op ons en ons kinders deur die media (veral deur die filmbedryf) wat die gees-element in alles inbring, is daarop gerig om ons en ons kinders te de-sensitiseer vir die gruwels wat kom.
Dit is vir my duidelik dat mense ons God en Hemelse Vader, en Sy Woord, die Bybel, vanuit die vlees, in plaas vanuit die gees wil lees, beoordeel en verstaan. Mense is geneig daartoe om dinge wat hulle nie verstaan nie af te maak as fabels en bangmaakstories. Een van die fabels (leuens) waarmee ek baie te doen kry is die volgende stelling: ‘Ek wil niks van die Duiwel en sy demone weet nie. As ek hulle nie pla nie sal hulle my nie pla nie.’
Dis jammer om te hoor. Hulle het nie nodig om enige bemoeienis met u te hê nie omrede u vir hulle geen gevaar inhou nie. U hoef nie enigsins met hom iets te doen te hê om deur hom gepla te word nie. Hy doen dit in elk geval. Maak egter die keuse om die Here te dien en dan sal u sien en eersterangs ervaar hoe hy hom openlik met u sal bemoei. Deur nie van hom te praat en/of hom te opponeer nie verwyder hom nie van die toneel af nie. Daar is tans ’n groot oorlog aan die gang in die gees. Die Duiwel sal ons treiter tot en met die laaste profetiese woord aangaande sy einde voltrek word.
Alhoewel die Bybel deur mense geskryf was, was dit onder leiding van die Heilige Gees, en daarom is of het alles vanaf Gen 1 tot en met Open 22:21, ‘n geestelike konnotasie, en moet ons dit geestelik benader en beoordeel. Ons moet ook besef dat God Drie-Enig in al sy fasette Gees is en as sulks beskou moet word. Ons kan Hom nie met die verstand (wat deel is van die vlees) probeer uitredeneer nie. Ons beskik nie oor die intellektuele vermoëns om dit te kan doen nie.
Besoek BoekwinkelSlangsaad Volume 1

